Verhoogde toegang tot drank lei tot meer geslagsgeweld – studie

’n Hoër konsentrasie van drankverkooppunte, verlengde handelsure en wydverspreide ongelisensieerde
drankverkope lei tot ’n groter risiko vir gesinsgeweld en geweld teen vroue en kinders.

So het die Suider-Afrikaanse Alliansie vir Alkoholbeleid (Saapa) en die Universiteit van die Witwatersrand(Wits)
se skool vir openbare gesondheid bevind in ’n studie wat oor agt gemeenskappe in Suid-Afrika, Lesotho,
Botswana en Namibië heen gedoen is.

Die navorsers het die verband tussen die beskikbaarheid van alkohol en geslagsgeweld in die volgende plekke
ondersoek:

Suid-Afrika: Eastridge in Mitchells Plain, Kaapstad; en Muledane, Thohoyandou Blok J, Limpopo
• Botswana: Lobatse en Molepolole
• Lesotho: Teyateyaneng en Lithoteng
• Namibië: Otjomuise en Rehoboth

Die studie is Dinsdag op Saapa se webtuiste gepubliseer.

“Fokusgroepbesprekings en onderhoude met sleutelinformante in al vier lande het alkoholbeskikbaarheid as
’n alomteenwoordige kenmerk van gemeenskapslewe beskryf.”

“ ’n Hoë digtheid van verkooppunte, verlengde handelsure en wydverspreid informele en ongelisensieerde
verkope is konsekwent verbind met geslagsgeweld, misdaad, gesinspanning en wyer maatskaplike ontwrigting.”

Volgens die studie kon daar ondanks verskeie pogings slegs data vir geslagsgeweld in Eastridge bekom word.

’n Ruimtelike ontleding van dié data het ’n geografiese verband tussen gebiede met meer plekke waar drank
beskikbaar is en meer gerapporteerde gevalle van geslagsgeweld gewys.

“Hoewel oorsaaklikheid nie afgelei kan word nie, strook die ruimtelike patroon met gemeenskapsverslae wat
alkoholbeskikbaarheid aan ’n risiko vir geweld koppel.

Ongelisensieerde drankverkooppunte in die betrokke gemeenskappe was by verre meer as gelisensieerde
verkooppunte – slegs 33% was volgens amptelike rekords gelisensieer.

Die gemeenskappe in Namibië (44,9%) en Suid-Afrika (37,1%) het die hoogste persentasie gelisensieerde
drankverkooppunte gehad. Die meerderheid van die verkooppunte (58,6%) is aangemeld as ongelisensieerd,
en 8,4% was onseker oor hul status.

Die navorsers het altesaam 787 drankverkooppunte in hul veldwerk oor die gemeenskappe heen
geïdentifiseer, terwyl slegs 348 gelisensieerde punte in amptelike rekords gevind is.

Volgens die studie sou byna die helfte van die drankverkooppunte nie vasgelê gewees het as daar slegs op
administratiewe data staatgemaak is nie.

“Dit beklemtoon beperkings in bestaande regulatoriese datastelsels en teenstrydighede tussen amptelike
lisensierekords en die werklike beskikbaarheid op die grond.

“ ’n Groot aantal verkooppunte was sewe dae per week in bedryf, en 24-uurhandel is by verskeie terreine
aangeteken, veral in Botswana en Namibië. In baie gevalle het gelisensieerde verkooppunte langer ure handel
gedryf as wat amptelik geregistreer is, wat wys op swak of geen wetstoepassing.”

Die meeste van die plekke het drank van Maandag tot Sondag verkoop, met die hoogste persentasies in Suid
-Afrika (87,1%) en Botswana (85,3%). ’n Kleiner persentasie was van Maandag tot Saterdag in bedryf in veral
Namibië (26,6%) en Lesotho (19,3%). Slegs 0,5% van die drankverkooppunte het slegs van Maandag tot Vrydag
handel gedryf, het die studie bevind.

Die konsentrasie van drankverkooppunte was in albei Lesotho-gemeenskappe aansienlik hoër as in die ander.

“Die studie het ook bevind dat nienakoming van lisensiëringsvoorwaardes en wette binne die gemeenskappe
genormaliseer is. Inwoners het ‘beperkte inspeksies en inkonsekwente toepassing van handelsure-beperkings’
gerapporteer, terwyl wetstoepassers hulpbronbeperkings as een van die redes vir die tekortkominge toegeskryf
het,” lui ’n verklaring van Saapa.

Die navorsers het in hul aanbevelings die behoefte aan groter gemeenskapsdeelname in die toeken van lisensies
voorgestel.

Die navorsers het in hul aanbevelings die behoefte aan groter gemeenskapsdeelname in die toeken van lisensies
voorgestel.

“Ons beveel verder aan dat die toeken van dranklisensies in residensiële gebiede dringend hersien word. Ons
navorsing het bevind dat hoë konsentrasies drankverkooppunte in en om woongebiede verband gehou het met
hoër vlakke van geslagsgeweld, misdaad en gesinsontwrigting,” het Aadielah Maker Diedericks, Saapa se
sekretaris-generaal en een van die hoofnavorsers van die studie, in die verklaring gesê.”

Daar is ook ’n beroep gedoen vir effektiewe wetstoepassing deur die toewysing van voldoende menslike en
finansiële hulpbronne.
marita.herselman@24.com

0 Comments